Subscribe by Email

Die Guptas nuus

sap-guptazumaDie voormalige ANC-parlementslid Vytjie Mentor sê die Gupta-familie het tydens ‘n privaat ontmoeting aan haar gesê dit sal net ‘n week duur vir haar om die nuwe minister van Openbare Ondernemings te word as sy instem tot hulle voorwaardes. Sy het in ‘n radio-onderhoud gesê president Jacob Zuma was in ‘n ander vertrek in die huis toe die aanbod gemaak is. Mentor sê sy het dit van die hand gewys en dit aan Zuma gesê, en ook aan ‘n minister en ander hooggeplaasde regerings-ampsdraers daarvan vertel. Sy sê dit is verraad om ‘n staat te roof of te probeer om ‘n parallelle staat te bedryf.

Die Suid-Afrikaanse Kommunisteparty het gister gesê ‘n kabinetskommel onder aandrang van die Guptas gaan binnekort aangekondig word en dat die minister van Handel en Nywerheid, Rob Davies, vervang gaan word. Sy woordvoerder het daarop gesê dat die president die enigste is wat ministers kan aanstel of afdank. Die SAKP sê die skommeling hou verband met die Guptas sê begeerte om ‘n belang in Arcelor Mittal-staal te bekom.

Die SA Kamer van Mynwese het sy kommer uitgespreek oor die wydverspreide bewerings van staatsroof deur die Guptas. Die omstrede familie is in die kollig oor bewerings dat hulle betrokke was by die keuse van sommige kabinetsministers. Charmane Russel van die kamer sê bewerings van bande tussen die minister van Minerale Hulpbronne, Msebenzi Zwane, en die Guptas laat die mynsektor vrae vra oor die kwessie.

Die ANC se nasionale uitvoerende komitee gaan die naweek in Pretoria vergader en daar word bespiegel dat die Gupta-debakel boaan die sakelys gaan wees. Die omstrede familie is in die kollig nadat verskeie hooggeplaasde ANC-lede onthul het dat hulle betrokke was by die keuse van sommige ministers. ANC-woordvoerder Zizi Kodwa sê daar word nie tans besprekings binne die party gevoer oor president Jacob Zuma se herroeping nie. Hy sê dit is noodsaaklik wat die regerende party doen en sê oor die onthullings.