Subscribe by Email

3 Ministers gaan strafregtelik aangekla word – TLU

Die Adjunk-President van TLU SA en ook Voorsitter van die Nasionale Water Forum (NWF), mnr. Louis Meintjes, gaan drie ministers strafregtelik aankla vir oortredings ingevolge die Nasionale Waterwet.

Mnr. Meintjes sê dat die kommersiële boer van Suid-Afrika is afhanklik van skoon water ten einde genoegsame veilige kos vir die inwoners van Suid-Afrika te voorsien.  “Dit is duidelik dat die ministers ter sprake, indien nie opsetlik nie, dan wel by versuim, nie uitvoering gee aan die bepalings van die Waterwet nie, en omdat ons geen reaksie van hulle kry na herhaaldelike aanmanings en vertoë in die saak nie, het ons geen keuse as om hulle strafregtelik aan te kla, te eis dat die saak ondersoek word en dat die skuldiges eventueel vervolg word nie,” sê mnr. Meintjes.

Die strafregtelike klagte teen die ministers sal eerskomende Vrydag, 7 Mei 2010, om 10:00 by die Brooklyn polisiekantoor in Pretoria gelê word.  Afskrifte van die aanklag met ondersteunende dokumente sal daar beskikbaar gestel word aan die media, en mnr. Meintjes sal die media daar te woord staan oor die aangeleentheid.