Subscribe by Email

Steve se Weskusplek te koop

weskusplek3 weskusplekstevehofmeyer

Die gewilde restaurant en vakansieoord, Weskusplek, op Jacobsbaai is in die mark vir ‘n koel R20 miljoen.

Die nuus dat hierdie Weskus-kuierplek in die mark is, is die week deur die bekende Afrikaanse sanger en mede-eienaar, Steve Hofmeyr op sosiale media bekend gemaak.

Amanda Singleton, wie saam met haar man, Willie, mede-eienaars en vennote met Hofmeyr is, het Vrydag bevestig die eiendom is in die mark vir R20 miljoen. Sy het gesê die vennote het besluit om te verkoop omdat die Singleton’s in die proses is om na Nieu-Seeland te emigreer na Amanda daar ‘n betrekking aanvaar het.

Die Singletons het in 2006 uit Pretoria na die Weskus verhuis om die bestuur van die plek oor te neem wat volgens Amanda toe al vir sowat ‘n jaar toegestaan het. Danksy Hofmeyr se bekendheid en gereelde optredes van bekende Afrikaanse vermaakkunstenaars, het die Weskusplek bekendheid begin verwerf. Die gewilde Oppiwafees, wat jaarliks honderde mense lok vir die unieke voorreg om agterop ‘n trekkerwa skouers met bekende sangers, akteurs en skrywers te skuur, het tot in Gauteng en verder aandag getrek.

Amanda het gesê as sy haar lewe kon oorhê, sal hulle beslis dit weer doen om hul kinders ‘n laerskoollewe op die Weskus te gun. “Dit was fabulous, maar die tyd is egter nou reg om ‘n skuif te maak sodat hulle die geleentheid sal hê om oorsee verder te leer.”

Amanda beplan om reeds in November na Nieu-Seeland te vertrek met die kinders wat haar sal volg sodra die skole vir die jaar sluit. Willie gaan eers aanbly tot die feesseisoen verby is en help ook met Oppiwafees vir 2015. Amanda het die versekering gegee die fees gaan voort en gesê die kunstenaars is klaar almal geboek. Die fees sal in die eerste week van Februarie gehou word.

Die Weskusplek maak dus nie toe nie, maar bly oop vir besigheid tot ‘n nuwe koper gevind kan word. Gemeet aan die kommentare op Hofmeyr se Facebookblad sal sy aanhangers graag wil sien dat hy daar betrokke bly. Les bes dat die nuwe eienaar die karakter van die Weskusplek sal behou.