Subscribe by Email

19 jarige vrou wat dagoud baba ontvoer Maandag in hof

Die 19 jarige vrou wat daarvan verdink word dat sy ’n dag oue baba gesteel en ontvoer het, sal waarskynlik Maandag in die Mitchell’s Plain Landdroshof verskyn. Kaptein Rewayne Muller sê dat die vrou van Philippi wat in Johannesburg in hegtenis geneem is, aangekla word van kinder ontvoering. DNA toetse word tans gedoen om die ware moeder van die baba te bevestig.

Intussen het die Daily Voice koerant berig dat die hospitaal waar die verdagte beweer het sy geboorte gegee het aan die kind, geen rekord van haar het nie.

Die Wes-Kaap se Gesondheidsdepartement het aan die Daily Voice gesê dat Fiona Luke, die verdagte in die saak, nie op hulle rekords is by die Mitchells Plain Dag Hospitaal nie.

Volgens die beskuldigde se broer, wat nie sy naam wil bekend maak nie, het hy sy suster by die hospitaal gaan aflaai op Donderdag laasweek, en dat sy die volgende dag (Vrydag) met die baba tuis gekom het.

Fiona Luke word daarvan beskuldig dat sy Zukiswa Sikuni se baba gesteel het op die Vrydag, nadat sy aangebied het om die baba vir Sikuni te dra.