Subscribe by Email

Honda Brio 1.2 Amaze

Honda Brio 1.2 Amaze

‘n Brio met ‘n “boot” (bagasiebak)

deur Marcel Upfold

Honda_Brio_1.2_Comfort_Amaze_011Ons toets-voertuig is: Honda Brio 1.2 Amaze (Sedan)

Eerste indrukke:

Dit is nogal opvallend in die motormark dat wanneer ‘n luikrug-buksie ‘n stalmaat met ‘n bagasiebak bykry hierdie dan so lyk asof daar net iets aangelas is. Wat die Brio betref moet ek nogal erken dat dit nie heeltemal die geval is nie. Die Amaze, soos wat die sedan genoem word, se agterdeur het ‘n nuwe vorm tenoor die van die luikrug en die bagasiebak rond dit goed af. Die voertuig lyk dus nie ongebalanseerd nie. Die Amaze reeks kom in drie modelle, Trend, Comfort en Comfort Auto. Ek het die Comfort vir die week gehad. Die Amaze is sowat 55mm langer tussen die voor en agter aste as die Luikrug-buksie. Dit is nie veel nie, maar die maak ‘n werklike verskil aan die binne-ruim en die ingehokte gevoel. Ek het nie ingehok in die Amaze gevoel nie alhoewel dit nie ‘n groot voertuig is nie. Daardie bietjie beteken meer beenruimte agter.

Wat die afwerking betref, wel wat kan ek anders sê as dat Honda is een van die vervaardigers wat ‘n goeie naam in die industrie het wat die betref. Alhoewel die instrumente by die marksegment pas, het ek nie die idee gekry dat dit goedkoop en afgeskeep is nie. Wat die plasing van die instrumente en kontroles betref is alles binne maklike bereik van die bestuurder. Die stuurwiel is hoogte verstelbaar en met die sitplek in ‘n gemaklike posisie was daar nog genoeg ruimte agter my vir ‘n persoon om nie heeltemal ingedruk te wees nie. Terloops, ek wat maar aan die groterige kant is, hoef nie die sitplek heeltemal terug te skuif nie. Die Comfort het elektriese kant spieëls sowel as elektriese ruite. Die stuurwiel het kontroles vir die klankstelsel wat ‘n groot voordeel is. Dit dra by tot veilige beheer van die voertuig indien jy nie jou aandag van die pad af te haal om klank te verstel nie. Alhoewel die panele voor plastiek is, kom dit nie goedkoop voor nie en die twee-kleur afwerking is heel aanskoulik. Die bekleedsel se “ligte sandduin” kleur skep die idee van spasie. Vir iemand met kinders sal dit dalk bietjie lol om skoon te hou.

Wat die bagasiebak betref, met ‘n 405 liter kapasiteit kan mens heelwat laai. Wat vir my opvallend was, is met die oopmaak van die bagasiebak het die deksel ‘n bietjie blikkerig voorgekom. So asof die metaal bietjie dunner is as wat dit op die oog af lyk wanneer dit toe is. Dit is seker deel van die manier om gewig te bespaar.

Die rit:

Die 1.2 enjin is glad nie lui nie en met die 5-gang ratkas heel gewillig om die taak gedoen te kry. Met ‘n paar ekstra mens in het die Amaze ook nie gesukkel nie. Die rit, soos ek elke week probeer ry bestaan uit verskillende pad-toestande. Op die stamperige pad het die Amaze homself heel skaflik gedra. Wat vir my opvallend was, is dat in teenstelling met die buksie, hierdie een nie soos ‘n borrel oor die pad beweeg het met ‘n sterk wind van voor of agter nie. Die bagasiebak het beslis ‘n invloed op dit. Brandstof verbruik was vir my interessant. Teen die wind op het dit vinnig geval na 14.2 km/l (7.0 l/100km) maar wind af het dit oor die 15 (6.5) gaan draai. Algeheel het ek ‘n syfer van 14.8 km/l (6.7 l/100km) gekry, en dit is aanvaarbaar, alhoewel dit nie by die vervaardiger se syfer kom nie.

Tegniese gebrabbel: Die Amaze word aangedryf deur ‘n 1198cc 4-silinder, 16-klep petrol enjin. Krag lewering is 65 kW @ 6000 rpm en wringkrag 109 Nm @ 4500 rpm. Die enjin is aan ‘n 5-gang ratkas gekoppel en dryf deur die voorwiele. Die Comfort het 14” allooi wiele met 175/65 R14 buitebande. CO2 emissies is 147 g/km.

Ek hou van:

  • Die algemene uitleg en toerusting. Alhoewel dit nie die duurste is wat beskikbaar is nie het dit geensins goedkoop of afgeskeep voorgekom nie.
  • Die afstand beheerde sluitstelsel is handig.
  • Geïntegreerde USB en AUX poort vir die klankstelsel.
  • Lugreëling
  • Elektriese kant-spieëls en venters.

Oepsies:

  • Die bagasiebak kan vanuit die Amaze oopgemaak word d.m.v. ‘n hefboom langs die bestuurder se sitplek. Indien mens uitklim en nagelaat het om dit oop te maak moet jy die sleutel gebruik. Daar is nie ‘n knip aan die buitekant nie. Dit kan dalk lol as jy vinnig uitklim om iets op te laai en dit reën. Dan moet jy sorg dat jy die sleutel in jou hande hê.

Wat my betref is daar nie werklik verdere Oopsies in die Amaze nie.

Slotsom:

As die klein voertuig mark jou behoefte is en jy het ‘n bagasiebak nodig dan sal die Brio Amaze ‘n goeie keuse wees. Dit is ‘n nuwe model op die mark en sal homself moet bewys. Selfs sy stalmaat die Brio Luikrug-buks is nie te lank hier beskikbaar nie, maar dit lyk reeds of hy homself goed van sy taak kwyt. Vir die eerste koper sou ek voel dat die Brio ‘n goeie opsie is. Soos ek altyd vir mense sê, moenie my woord daarvoor aanvaar nie, gaan na die handelaar en gaan kyk of die Amaze dit is wat jy nodig het. Onthou sy stalmaat kan ook ‘n goeie opsie wees.

Sleutel syfers*

Vervaardiger – Honda

Model – Brio 1.2 Amaze

Enjin – 1198cc 4-silinder, 16-klep petrol

Krag – 65 kW @ 6000 rpm

Wringkrag – 109 Nm @ 4500 rpm.

Brandstof spesifikasie – Loodvrye

Brandstof verbruik – Vervaardiger 6.1 l/100km & werklik 6.7 l/100km

Brandstoftenk – 35 liter

CO2 uitlatings – 147 g/km

Versnelling (0-100 km/u)

Transmissie en aandrywing – 5-spoed handrat deur die voorwiele

Wiele en buitebande – Allooi 14” & 175/65 R14

Sitplekke – 2 + 2/3 (Afhangend van die grootte van die persoon.

Bagasieruim – 405 liter

Diensplan – 2 jaar / 30 000km

Waarborg – 3 jaar / 100 000 km

Prys (inkl.) – Trend – R128 900 / Comfort – R136 900 / Comfort Auto – R146 900 (Aug 2013)

*Bron: Honda & Duoporta

Marcel Upfold is ‘n vryskut motorjoernalis en webmeester van www.ultimatedrive.co.za

en kan gekontak word via e-pos by marcel@ultimatedrive.co.za

Vrywaring:

  • Lesers moet besef dat joernaliste nuwe voertuie (meestal sub 10 000km) tydens die toetsritte bestuur en kan slegs kommentaar lewer op dit wat hulle tydens hierdie ritte ondervind. Nuwe voertuie het soms die manier om op plekke te kraak en te kners totdat alles in posisie is.
  • Indien joernaliste tekortkominge vind, word dit aan die vervaardiger gerapporteer. Dit is dan die vervaardiger se besluit of aandag daaraan geskenk sal word.
  • In die geval waar lesers voertuie met hoër odometer lesings ry en ander foute vind kan die joernaliste geensins blameer word vir sulke verskille nie.
  • Enigiets wat deur die joernalis gerapporteer word is op sy eie bevindinge gegrond.
  • Dit word van joernaliste verwag om sover moontlik objektief ten opsigte van die betrokke voertuig te wees en te verhoed dat persoonlike voorkeure die verslag/artikel/oorsig beïnvloed.