Subscribe by Email

“Vrotste skeidsregter wat asemhaal” hang stewels op

Die Omstrede Australiese skeidsregter, Stuart Dickenson, het pas aangekondig dat hy met onmiddellike effek op 43-jarige ouderdom uittree.

Dickenson het in 47 toetse die fluitjie hanteer na hy in 1997 die eerste keer in ‘n toets die skeidsregter was. Dit was ‘n wêldbeker-kwalifiserende wedstryd tussen Tahiti en Papua Nieu-Guinee.

Waar die Auusies vol lof is vir die bydrae wat Dickenson tot die spel gemaak het en hy in 2009 en 2010 die Skeidsregter van die Jaar-toekenning by sy landgenote gekry het, asook sewe keer die Super-Australiese Skeidsregter van die jaar-toenenning, is hy elders, om dit sagkens te stel, as omstrede beskou.

Die felste kritiek het waarskynlik in 2005 gekom toe ‘n Nieu-Seelandse rubriekskrywer hom as die vrotste skeidsregter wat asemhaal beskryf het.

Dickenson het sedert 2002 gereeld in Suid-Afrikaanse koerante onder sportskrywers se skerp tonge deurgeloop. Van die kommentaar sluit in dat hy wedstryde waarin Suid-Afrikaanse spanne speel “met skynbare eenogige hantering” die Suid-Afrikaanse spanne omgekrap het, dat die “Bokke kwaai deurgeloop het onder sy omstrede beslissings” , dat daar “elke jaar onder Suid-Afrikaanse Super-spanne klagtes oor dié omstrede Aussie is,” dat hy “nie juis as ‘n vriend van Suid-Afrikaanse rugby” bekend staan nie, en vele meer.

Suid-Afrikaanse rugby-onderstueners sal ‘n sug van verligting slaak dat Dickenson nou die sakewêreld betree. Rugbyspelers sal dalk op twee gedagtes hink – Dickenson was wél vir hulle ‘n stiefregter, maar soos die Bokke ook kan getuig, Dickenson is in die verlede toe hy nie kon blaas nie deur nog vrotter Australiese blasers vervang.

En soos die Aussies nou Dickenson se lofliedere besing, spel dit niks goeds vir anderlandspanne nie.

Herman Toerien