Subscribe by Email

“Stop Woolworths!” – Helpende Hand Vroue in Aksie

“Stop Woolworths.” Dit is die boodskap van Solidariteit Helpende Hand Vroue in Aksie wat eis dat Woolworths onmiddellik die besluit herroep om nie langer Christelike tydskrifte te verkoop nie.

Vroue in Aksie se reaksie volg nadat redakteurs van Christelike tydskrifte soos Lig, Juig, Joy en Lééf ingelig is dat dié tydskrifte voortaan nie meer by Woolworths verkoop sal word nie. Die aankondiging het ʼn herrie ontketen op sosiale netwerke soos Facebook, waar Christene protes teen die besluit aanteken asook op Kletskerk.

Sommige reaksies was ten gunste van die besluit maar die meeste het dit veroordeel. “Afrikaanse vroue maak ʼn groot deel uit van Woolworths se ondersteuningsbasis,” sê dr. Maryn Botha, nasionale voorsitter van Vroue in Aksie. “Dit is ʼn skreiende skande dat die behoeftes van so ʼn groot deel van Woolworths se tradisionele ondersteuningsbasis nie in ag geneem word nie,” voeg sy by. Vroue in Aksie waarsku intussen dat die kettingwinkel aan die organisasie se stem moet gehoor gee. “Sou Woolworths voortgaan met die besluit, beoog Vroue in Aksie om ʼn nasionale veldtog teen Woolworths te loods,” sê Botha.

Volgens haar gaan die organisasie sy lede, Christen Afrikaanse vroue, aanmoedig om nie meer die kettingwinkel te ondersteun nie. Solidariteit Helpende Hand het vroeër vanjaar ʼn suksesvolle veldtog geloods waar ongeveer 55 000 Suid-Afrikaners opgestaan het teen die implementering van sekskanale op DStv. Die betaalkanaal het intussen aangekondig dat pornografiese kanale nie geïmplementeer gaan word nie. “Dit is tyd dat die vroue van Suid-Afrika opstaan en standpunt inneem teen besluite wat die morele verval van ons samelewing aanmoedig,” sê Botha.

Woolworths het intussen ‘n aansienlike ommekeer gemaak en sy aanvanklike besluit drasties getemper. Volgens die aanvanklike besluit het die winkelgroep besluit om met onmiddellike ingang geen godsdienstige tydskrifte meer aan te hou nie. Alle winkels het opdrag gekry om sulke tydskrifte onmiddellik van hulle rakke te verwyder. Vandag het die winkelgroep ʼn ander deuntjie begin sing. In ‘n tweet op Twitter sê die winkelgroep hulle wou niemand te na kom nie en sekere godsdienstige tydskrifte soos Finesse en Lééf sal steeds op hulle rakke te koop wees.

2 Responses to “Stop Woolworths!” – Helpende Hand Vroue in Aksie

  1. Gareth

    Oktober 21, 2010 at 11:18 am

    Hierdie is soos mens in engels sou se, “pitiful”. Gaan na cum boeke toe as jy jou christelike boeke soek, of selfs na CNA. Hoeveel ander winkels maar gebruik van Paas fees, kersfees, etc. en het ook nie een enige Christelike konnektasies nie?? Maar niemand maak ‘n “scene” daaroor nie, of moet ek eerder se ‘n “tantrum” in die geval… Daar is belangriker goed daar buite, dalk sal die stap tussen winkels jou goed doen, want kort jy dit dalk.

  2. Gerrit Viljoen

    Oktober 21, 2010 at 6:52 am

    As Woolies nie my geloof Respekteer nie het hul ook nie my geld nodig nie.Watter ander Kettingwinkelgroep wil hierdie geleentheid aangryp en die Christen waardes respekteer